Terreinuitleg

Beplan die terreinuitleg oordeelkundig, sodat dit vir die span gerieflik en gemaklik kan wees. Hou egter ander spanne ook in gedagte tydens jou beplanning.
Plaas die tafel en koelkas in die skaduwee.
Die dreineringsput moet uit die loop area wees en ook nie te naby die kombuis en igloe nie.
Die stoof moet naby die tafel wees, maar die skoorsteen moet weg van die tafel af wys. Moet nie die stoof teen die bome of igloes sit nie. Maak seker dat die skoorsteen nie in ‘n ander span se igloe - deur of - venster in blaas nie.

Die volgende geriewe word gemaak:
1. Stoof
2. Dreineringsput
3. Koelkas
4. Tafel
5. Wasgoedlyn

1.  Stoof

Gebruik die grond wat jy uit jou dreineringsput verwyder het om tussen die stene te pleister. Pleister dan ook die buitekant van die stoof met modder toe.

2. Dreineringsput

1. Die gat vir die dreineringsput moet minimum 1 meter diep wees.
2. Plaas groot klippe (ongeveer handgrootte, of meer) onder in die put om die water te dreineer. Kies klippe wat groot spasies tussen mekaar kan los.
3. Plaas kleiner klippe (ongeveer palmgrootte) bo-op die die groot klippe. Die gat moet minstens halfpad vol klippe wees.
4. Plaas die koffieblik met die gate in bo-op die klippe.
5. Bedek die bokant van die koffieblik met ‘n laag gras, dit sal meeste van die kosstukkies in die skottelgoedwater filtreer.
6. Die deksel van die dreineringsput word gemaak soos die blad van die tafel en die koelkas, deur middel van die rygvaswoel. Gebruik alleenlik die reeds kort gesaagde gomlatte

3.  Koelkas

Die koelkas maak gebruik van verdamping om die binnekant koel te hou. Dit moet in die skaduwee staan.

Gebruik die driepootvaswoel en bou ‘n enkele driepoot. Gebruik die langste van die lang gomlatte.
Maak twee kort dwarslatte aan die driepoot vas, deur middel van die kruisvaswoel.
Gebruik nou die rygvaswoel om ‘n blad aan die binnekant van die driepoot te maak, gebruik die reeds kort gesnyde gomlatte.
Werk die stukkies tou wat oral los hang weg deur hulle tussen die knope en vasste toue weg te steek. Dit laat die bouwerk netjies lyk. Moet nie die stukkies afsny nie!
Vou gooiing sak rondom die driepoot, maak seker dit is tot by die blad toe. Laat die gooiing aan die voorkant oor ditself vou, sodat dit oopgevou kan word om in te werk.
Maak die sak goed nat. Hang die vol water bottel in die boom, bo die koelkas. Lei die drippypie tot teen die gooing en stel die reguleerder sodat daar genoeg water oor die sak loop.

4.  Tafel

Daar is verskeie maniere om ‘n tafel te maak, maar vir die kamp se doeleindes maak almal dieselfde tipe tafel. Geen aanpassings of uitbreidings word aanvaar nie.

‘n Dubbele weergawe van die volgende tafel word gemaak:
Gebruik die driepootvaswoel en bou drie aparte driepote. Gebruik die langste van die lang gomlatte.
Gebruik ‘n kruisvaswoel om die draagbalk vir die bankies vas te maak. Plaas die draagbalk so bietjie onder die hoogte van jou knie se buig. (±40cm van die grond af).
Gebruik ‘n kruisvaswoel om die draagbalk vir die tafelblad te maak. Gebruik een van die reeds kortgesnyde gomlatte vir die tafelblad se dwarslat. Plaas dit ongeveer 20cm bokant die bankie se dwarslat.
Plaas ‘n paar van die lang gomlatte los op die draagbalke om die afstand tussen die driepote te meet en te toets of die bankie en die tafelblad op gemaklike hoogtes sit voor die volgende stap.
Maak 3 van die lang gomlatte aan die onderste draagbalk vas deur die rygvaswoel te gebruik om die bankies te maak.
Maak die res van die lang gomlatte aan die boonste draagbalk vas deur die rygvaswoel te gebruik om die tafelblad te maak. (Probeer die balke so draai dat die tafelblad so plat as moontlik kan wees)
Werk die stukkies tou wat oral los hang weg deur hulle tussen die knope en vasste toue weg te steek. Dit laat die bouwerk netjies lyk. Moet nie die stukkies afsny nie!

5.  Wasgoedlyn 

Span ‘n stuk tou tussen die driepote van die tafel, sodat dit as wasgoedlyn kan dien waar die gewaste vadoeke kan hang.

Knope

Kniehalter

Al die vaswoele begin met die kniehalter. Dit is dieselfde knoop wat gebruik word om die tou aan die flagpaal vas te maak.

Skuifknoop

Al die vaswoele eindig met die skuifknoop. Nadat die knoop afeindig is, werk die los punte van die tou weg.

Driepootvaswoel

Die driepootvaswoel word gebruik om die boonste knoop van die driepoot te maak.

Lê drie gomlatte langs mekaar neer en maak ‘n kniehalterslag om een van die buitenste stokke.
Draai nou die tou om die gomlatte: let op dat die tou bo-oor die een en dan onder deur die volgende gomlat gaan.
Hou aan totdat omtrent 10cm van die gomlatte met tou bedek is. Maak seker dat die tou goed styfgetrek en die slae netjies teen mekaar is.
Wurg die slae deur die tou ‘n paar keer van bo na onder tussen die pale deur te trek. Maak weereens seker dat die tou goed styfgetrek is.
Eindig die vaswoel met ‘n skuifknoop af en werk die los punte weg.
Sprei die pote uit om ‘n driepoot te vorm, soos in die skets.

KRUISvaswoel
‘n Kruisvaswoel word gebruik om ‘n dwarsbalk vas te maak.

Maak ‘n kniehalterslag om die regop paal. Sorg dat ‘n entjie van die tou aan die een punt oorbly om later ‘n skuifknoop mee te kan voltooi. Plaas die draagbalk teen die regop paal op so manier dat dit op die kniehalterslag rus.
Draai die lang ent van die tou voor om die draagbalk, agter om die poot, weer voor om die draagbalk en weer agterom die poot. Trek die tou baie styf.
Herhaal hierdie paalslae minstens drie keer.
Draai die tou om die draagbalk en maak weer minstens twee wurgslae om die paalslae.
Eindig af deur die twee ente van die toue met ‘n skuifknoop aanmekaar te knoop.
Werk die los punte weg.
RYGvaswoel
Die vaswoel word gebruik om die blad van die dreineringsput, die tafelblad en die bankies te bou.

Maak ‘n kniehalterslag om die draagbalk.
Plaas die eerste lat van die tafelblad op die draagbalk en draai die tou om die lat deur eers onder om die draagbalk te draai en dan van agter na voor oor die lat en weer onder om die draagbalk te draai.
Plaas die tweede lat op die draagbalk en herhaal die slag soos in stap 2.
Hou so aan, totdat al die gomlatte op die draagbalk is. Jy kan self besluit op die breedte van die blad. Plaas die gomlatte teen mekaar en trek die tou goed styf.
Neem nou die tou onder die draagbalk om, sodat dit aan die voorkant van die laaste gomlat uitkom. Draai die tou van voor na agter oor die gomlatte en dan onder om die draagbalk, sodat dit weer by die voorkant van die tweede laaste gomlat uitkom.
Herhaal hierdie slag nou met elke gomlat, sodat die tou ’n kruis oor elke gomlat maak.
Maak nou die kniehalterslag los en knoop die ente van die tou met ‘n skuifknoop aanmekaar.