Geskiedenis van Kompetisiekamp

In 1975 het ‘n kamp onder Sarel Cilliers se bome op Doornkloof begin en vyf jaar later verskuif na Overspruit se kareebome, met die idee om vir graad 9 en graad 10 Verkenners meer vaardighede te leer om vir hulleself te kan sorg. Oom Jan Jansen was eerste aan die stuur met ‘n handjie vol offisiere. In tente is daar gebly soos wat die Voortrekkers met die groot trek gemaak het. Hulle was onseker oor die toekoms, maar baie opgewonde oor al die nuwe uitdagings wat aangepak sou word. Die kamp het twee spesialisasies aangebied, naamlik Kamplewe en Veldstudie. In die begin jare van die kamp het kommando’s hul eie spanne ingeskryf en dan teen mekaar kompeteer om te bepaal wie die beste kokke was. Offisiere wat reg was om ‘n kamp te vestig, het almal ingespring om selfs die kleinste aktiwiteit te maak werk. ‘n Ligte groen kampvandel is in gebruik geneem om te sê dat Kompetisiekamp hier is om te bly. Later is die kamp aangepas dat slegs graad 9 verkenners die kamp bywoon en spanne is toe deur die kamp ingedeel en is uit verskillende kommando's saamgestel.

Hierna volg ‘n paar kampleiers vir Kompetisiekamp. Vanaf 1979 tot 1980 oom Natie Saaiman. 1981 oom Dan Statler. 1982 tot 1986 oom Ian Oertal. 1987 tot 1997 oom Natie Saaiman. 1998 en 1999 oom Ian Oertal en van 2000 tot 2020 Willie Engelbrecht. Vanaf 2021 dien Jaco Erwee as kampleier. Die kamp het baie aangepas by die tye en sedert begin 2006 het die kentekens gewysig na Kamplewe en Ekologie. Die kamp het ook sedert 2007 met die finansiële bestuur periode begin wat ontwikkel het om ‘n deel van die graad 9 graadwielwerk werk in te sluit. Bykans 20 trofees vorm deel van die kamp se gereelde en deurlopende kompetisies.


Offisiere het gekom en gegaan en ander het gebly. Tradisies het ontstaan wat Kompitisiekamp se uniekheid net verder vergroot en dit 'n kamp gemaak het wat graad 9’s nog jaar vir jaar trek en daarna nog vir jare oor die belewenis laat praat.

Kompetisiekamp het ‘n eie republiek geword (Die Republiek van Overspruit) met ‘n groot kabinet (die kamp offisiere) en met eers regte bone en nou papier bone - wat deur die Kompetisiekamp Kontant Kluis gedruk word - as geldstelsel. Met ‘n bank, posmeester en finansiële adviseur wie kan help met Overspruit se aandele mark, kan gesonde handeldrywing tussen die bome plaasvind. Hierdie stelsel leer die verkenners meer van handeldryf, finansiële beplanning en bestuur van hul geldsake.
Kompetisekamp het sy eie saluut (Lepel!) en seremoniëlestaf ontwikkel om die uniekheid ver bo ander kampe te vat. Die groot houtlepel vorm ‘n integrale deel van die kamp se gees. Wie kan vergeet van Sondae se vleis, rys, vleis, rys marsjeer na die kerkdiens.

Die offisiere bou ook jaarliks aan spangees tot voordeel van die kamp met spesiale kamphemde met temas soos: “Hap hom voor hy hol”, “Plek van die vliesvreters” en vele meer.

Ons kamplied het ontwikkel van ‘n lied op die wysie van Juanite Claasens se rolbos tot ‘n baie moderne lied geskryf deur Nelmari Oosthuizen.

Die kampembleem het deur die jare meer modern geword, maar die oorspronklike tent en boom bly deel van kamplewe en is as sentrale tema gehou.

Sedert 2009 het die kamp ‘n dieper belewenis rondom geestesweerbaarheid gevestig. Hierdie periode het so ontwikkel dat dit in 2016 aangebied word deur ‘n dominee en verkenners die geleentheid kry om hul op geestelike gebied weerbaar te maak om vas en stewig te staan in hul geloof in ‘n veranderende wêreld.

Kompetisiekamp het in 2015 sy 40ste bestaansjaar gevier en ook die Hoofleierstoekenning ontvang. In die jaar is ook ‘n nuwe moderne kampfaandel in gebruik geneem. In 2016 het Kompetisiekamp 85 jaar van Voortrekkerwees gevier saam met Voortrekkers reg oor ons land en deur die kamp oor die hele Doornkloof nuwe spore getrap.

In 2018 vind Kompetisiekamp oor Paasnaweek plaas en is ʼn spesiale “God is liefde ” tema by die kamp ingewerk. In 2019 is Doornkloof 80 jaar in besit van Die Voortrekkers Vrystaat en erken ons ook ons kamp se diep spore as deel van die vieringe

In 2020 is Kompetisiekamp reeds 45 jaar op Doornkloof. In die jaar is die kamp uitgestel, weens die COVID 19 pandemie. Dit is maar die tweede keer wat die kamp uitgestel is, die vorige keer was die 1988 vloede toe die Vrystaat se riviere en spruite in vloed was. In 2020 tree Willie Engelbrecht uit as kampleier en sal die 46ste bestaansjaar ingelyf word met nuwe leierskap vir hierdie dinamiese kamp.

Wat voorlê vir hierdie wonderlike kamp kan niemand sê nie, maar ons almal weet dat die kamp se vlam steeds gaan bly brand. Kom wind kom weer, niks sal ons keer om vir jare nog Kompetisiekamp te vorm tot die beste kompetisiekamp in Afrika.